8-Dag Weskus & Namakwaland Toer

Toer Suid Afrika bied drie 8-dag blomme toere die jaar. Ons besoek nie net die Namakwaland nie, maar ook die pragtige Weskus. Om tyd te bespaar, vlieg ons vanaf OR Tambo Internasionale lughawe na Kaapstad, reis deur Namakwaland, en besoek die Weskus. Hierna reis ons terug na Johannesburg vanaf Kaapstad met die Premier Klas Trein.
Kies een van die pakkette hier onder:
Ingesluit vanaf JHB – Vliegkaartjies en Premier Klas treinkaartjies : 
8 dae 7 nagte
Vanaf Kaapstad tot Kaapstad : 6 dae 5 nagte
Datums :
14 Augustus 2019
21 Augustus 2019
28 Augustus 2019
Pryse :
R11 500,00 per persoon wat deel vanaf Kaapstad tot Kaapstad 
R12 500,00 per persoon wat deel wat retoer vlieg
Ander datums R15 000 per persoon wat deel (R18 000 enkel in koepee en kamer.)
Ingesluit in die toer :
Toegangsfooie vir plekke wat ons besoek,
Luukse Toer Bus,
Vlugkaartjie,
Treinkaartjie met etes ingesluit,
Toer Gidse, Kruiersloon,
Aandete, bed & ontbyt
Nie ingesluit by toer :
Fooi vir busbestuurder,
Middagete en drankies vir jou eie rekening

Toerplan

Dag 1
Vandag vertrek ons vroeg vanaf OR Tambo Lughawe – Jhb. Ons arriveer in Kaapstad. Ons roete neem ons deur die pragtige streek van Canola lande, Malmesbury, verby Piketberg en oor die Piekenierskloof-pas. Ons besoek vandag Clanwilliam. Ja, dit is hier waar die Rooibostee-plant natuurlik groei en ook vandag op groot skaal geproduseer word. Ons besoek die Rooibostee-fabriek, Strassberger veldskoen-fabriek, en die pragtige Ramskop Natuurtuin, waar u ‘n groot verskeidenheid veldblomme, vetplante en Kokerbome sal kan sien. Ons oornag op Clanwilliam op Aandete, Bed en Ontbyt ingesluit.
Dag 2
Vandag lê ‘n mooi dag vir ons voor. Ons vertrek vanaf Clanwilliam en reis deur die dorpie Vanrhynsdorp, deur die Knersvlakte, oor die Vanrhynspas na die klein dorpie van Nieuwoudtville. Die dorpie is bekend as die bolplant-hoofstad van die wêreld. Hier is bolplante wat inheems is net aan die streek, en ook ‘n groot verskeidenheid plante wat meeste van ons nog nooit gesien het nie. Ons besoek ook die mooi NG Kerk wat uit sandsteen gebou is, en sien ook die pragtige wit sandsteen-preekstoel in die kerk. Ons besoek ook Nieuwoudtville-waterval en soek die beste blomme in die streek. Ons vertrek weer in die namiddag terug na Vanrhynsdorp, waar ons oornag op Vredendal, op Aandete, Bed en Ontbyt ingesluit. Drankies is vir u eie rekening. 
Dag 3
Nog ‘n dag van mooi blomme. Ons reis vandag verder verby dorpies soos Nuwerus, Bitterfontein, Garies, en Kamieskroon. By Kamieskroon verlaat ons die N7 hoofweg en ry dan na die bekende Namakwa Nasionale Park waar ons besoek aflê by Skilpad. Dit is hier waar u die plate met geel en oranje Namakwaland-daisies sien. Na ons besoek aan Skilpad, vertrek ons weer en reis verder Noord, verby pragtige groot klipkoppe met Vygies en Botterblomme en ander blomspesies. Ons is oppad na Springbok, die Hoofstad van Namakwaland. Ons oornag in Okiep op Aandete, Bed en Ontbyt ingesluit. Drankies is vir u eie rekening.
Dag 4
Vanoggend, na ontbyt, ry ons na waar die blommetjies ons lei. Gewoonlik in die omgewing van Okiep, Concordia en Springbok. Ons oornag in Okiep. Aandete, Bed en Ontbyt ingesluit.
Dag 5 
Vandag reis ons terug na die Suide toe, en besoek die pragtige Velddrif, Laaiplek en Port Owen. Hier leer ons van bokkoms en oornag dan by ons hotel op Veldrif. Aandete, Bed en Ontbyt ingesluit.
Dag 6
Vandag besoek ons die Weskus Nasionale Park, en natuurlik ook die blomryke Postberg. Na ons besoek, vertrek ons terug na Kaapstad en beoog om teen so 5nm by Century City se Tsogo Sun Stay Easy hotel te wees. Ons oornag in Kaapstad. Geen aandete. Alleenlik Bed en Ontbyt ingesluit.
Dag 7
Vanoggend staan ons vroeg op. Geniet ontbyt, en gaan dan na Kaapstad Stasie, waar ons 9.00vm met die Premier Classe trein vertrek terug na Johannesburg. Bed, Ontbyt, Middagete en Aandete is ingesluit op die trein.
Dag 8
Vandag kom ons aan die einde van die toer. Ons arriveer in Johannesburg, enige tyd vanaf 12.00nm.

 

Nuttige Wenke

U treinkaartjie en vervoer is ingesluit in elke toerpakket.
U word vergesel en gelei deur geregistreerde Nasionale toergidse.
Die toerpakette sluit Aandete, Bed en Ontbyt in op die plekke waar ons oornag.  Alle ander etes, dus Middagetes  verversings en drankies, is vir u eie rekening. 

Op Premier Classe trein (Luukse toer): 
Op die Premier Classe luukse trein is al u etes ingesluit op die trein. Die res van die toer is op Aandete, Bed, en Ontbyt -basis.
Die Premier Classe trein is natuurlik luuks, en u word met persoonlike aandag en detail hanteer. U kuier heerlik in die Sitkamerwa en Kroeg, eet soos in ‘n goeie restaurant, in styl op keurig gedekte tafels in die Eetwa, en slaap lekker in u gerieflike kompartement – slegs 2 persone per kompartement, of een persoon per koepee. U beddegoed en etes op die Premier Classe trein is ingesluit.
Die plekke wat ons besoek en oornag-plekke mag verander, na gelang van beskikbaarheid, en getal mense wat die toer gaan meemaak.  U sal op hoogte gehou word. 
Die toestande en organisasie op die treine is buite ons beheer, maar ons het dit ondersoek en beleef, en ons advies is as volg :
Die treinrit tussen Johannesburg en die Kaap neem ongeveer 24 uur, en u moet liefs GEENSINS die trein verlaat oppad nie! 
Neem dus gerus die volgende saam op die trein:
Snoepgoed (lekkergoed, versnaperings), 
Leesstof (tydskrif, koerant, boek), 
Drinkwater (bottel water), en enige spesiale geur-drankies wat u verkies – drankies kan wel aangekoop word op die trein, maar dit kan gebeur dat dit uitverkoop word.
VOLGELAAIDE selfone en ander VOLGELAAIDE batterye.
U spesiale Medisyne(s) (Rennies, hoofpynpille, hoesgoed, ens, wat u dalk mag nodig hê) en enigiets wat u daagliks moet gebruik (daar is nie kans om ‘n Apteek te besoek tydens u treinreis nie)
(Handdoek en Kamerjas word voorsien op die Premier Classe trein)